Vraag: Vandat u met u veldtog in aanloop tot die 4 November-verkiesing begin het, watter vrae kry u die meeste? Daar is eintlik drie vrae wat gereeld na vore kom: Waarvoor staan IRASA? Hoekom raak ek by politiek betrokke? En kan een verteenwoordiger werklik ’n verskil maak? Ek dink dit is belangrike vrae, want mense wil weet wat my motivering is en wat hulle van my as kandidaat kan verwag. Vraag: Waarvoor staan IRASA? IRASA – die Independent Ratepayers Association of South Africa platform– dit bied vir my ’n platform wat baie goed aansluit by dit waarvoor ek staan en waar ek oor baie jare by betrokke was: eiendom, besigheid, plaaslike regering en die belange van die gemeenskap. IRASA se fokus is nie op tradisionele party-politiek of partygevegte nie. Die kernbeginsel is “Inwoners Eerste.” Dit beteken dat besluite vanuit ’n plaaslike perspektief beoordeel moet word: Wat is in die beste belang van Matlosana se inwoners, eiendomseienaars, belastingbetalers en besighede? Vraag: Gaan jy nou by tradisionele politiek betrokke raak? Nee. Ek sien my betrokkenheid nie as ’n toetrede tot tradisionele politiek nie. My belangstelling is in plaaslike regering en gemeenskapsontwikkeling. Die munisipale raad is waar besluite geneem word oor dinge wat mense elke dag direk raak - eiendomsbelasting, tariewe, infrastruktuur, dienslewering, ontwikkeling en die plaaslike sakeomgewing. Dit is juis waarom IRASA vir my ’n natuurlike platform is. Dit gee my die geleentheid om klein en groot besighede, eiendomseienaars en belastingbetalers binne die munisipale proses te verteenwoordig. Vraag: Maar kan Frans Roos as een verteenwoordiger werklik ’n verskil maak? Die antwoord is: Ja. Een verteenwoordiger kan dalk nie alleen alles verander nie, maar een aktiewe, ingeligte en beginselvaste stem kan vrae vra, inligting bekom, probleme onder die aandag van die gemeenskap bring en aanspreeklikheid bevorder. Maar ek glo ook nie dat die oplossing net in een raadslid lê nie. Die groter geleentheid lê daarin om aktiewe gemeenskappe te mobiliseer. As daar ’n sterk besigheidsnetwerk, inwonersforum of gemeenskapsvereniging rondom ’n bepaalde saak ontstaan, kan daar ’n enorme hoeveelheid kundigheid en ervaring uit die gemeenskap ontsluit word. Vraag: Wat wil jy uiteindelik bereik? Ek wil hê dat inwoners en besighede moet weet dat hulle ’n stem in plaaslike regering het – nie net wanneer daar ’n verkiesing is nie, maar elke dag. Ons het mense in Matlosana met ongelooflike kennis en ervaring in besigheid, eiendom, finansies, ingenieurswese, wetgewing, gemeenskapsontwikkeling en talle ander gebiede. Die vraag is: Hoe kry ons daardie kundigheid bymekaar en gebruik ons dit konstruktief tot voordeel van Matlosana se inwonsers? Dit is waar ek glo ek ’n rol kan speel. Dit gaan uiteindelik nie oor Frans Roos nie. Dit gaan oor wat ons as inwoners, eiendomseienaars en besighede saam kan doen om ’n sterker en meer volhoubare Matlosana te bou.Contact: 083 378 8826 Websites: www.votefransroos.co.za IRASA Website: www.irasa.org.za Inwoners Eerste. Plaaslike oplossings. Praktiese verteenwoordiging.